Personeel

Ds. Cobus Swanepoel is gebore in Mariental, Namibië. Hy het grootgeword in Barberton en Pietersburg.

Hy matrikuleer in 2004 aan die Hoërskool Pietersburg waarna hy na Tukkies gaan vir sy teologiese opleiding. Hy verwerf die grade B.Th en M.Div (Ou Testament) aan die Universiteit van Pretoria.

Goodwoodpark is Cobus se eerste gemeente. Hy is getroud met Emene en hulle het ’n dogter, Clara.

Cobus is lief vir houtwerk, mooi kuns, lees en kosmaak.

Jy kan vir Cobus kontak by (021) 591 1601 of epos na cosniek@gmail.com

Michael Beukes, ons jeugwerker, is gebore in Oudtshoorn en het grootgeword in Goodwood.  Hy voltooi sy matriek aan die Hoër Tegniese skool Bellville (HTS) in 2002.  Hy studeer Bemarking aan die Northlink College en verwerf ’n kerklike diploma in Jeugbediening by die Hugenote Bybel Instituut (Universiteit van Pretoria) en ’n Sertifikaat in Preek Bevoegdheid deur Communitas (Universiteit Stellenbosch).

Michael is getroud met Anika Beukes en hulle het nog net ’n honde-kind, Dobbie.

Michael het ’n passie om jongmense (en volwassenes!) na God te lei en geestelik te bedien.  Hy wil gebrokenes help om ‘n lewende verhouding met ’n liefdevolle en genadige God te kweek.

Michael is ook die jeugwerker van die NGK Ruyterwacht. 

Jy kan vir Michael kontak by 083 298 1272 of epos na michaelbeukes@gmail.com

Dr Fanie Marais is in Pretoria gebore en matrikuleer in 1969 aan die Hoërskool Menlopark.  Hy studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria waar hy die grade BA, BA Hons (Grieks en Semitiese Tale) en B.Th behaal in die 70’s van die vorige eeu. Hy het ook onder Professor Ferdinand Deist sy doktorale studie in Ou Testament voltooi.

Hy was predikant in die NGK Sanddrif, NGSK Witwatersrand en NGK Wellington. Hy het in 2012 emeriteer om meer tyd aan sy kuns te kan spandeer, maar is sedert 2015 weer as pastorale hulp (met opdrag Bejaardebediening) by ons gemeente betrokke. Fanie is getroud met Charlotte, ’n spraakterapeut, en hulle is geseën met drie kinders: Rolanda, Rentia en James.

Fanie het as kunstenaar reeds aan talle uitstallings deelgeneem en kunsklasse aangebied vir straatkinders en in die gevangenisse by Wellington en Malmesbury.

Kontak vir Fanie by 083 225 5076 of epos hom by faniecharlotte@gmail.com

Ds Faani Engelbrecht is in Bellville gebore en het in 1989 aan die Hoërskool Bellville matrikuleer, waarna hy in 1990 sy diensplig voltooi het as deel van die Kapelaansdiens se Kerkkoor en Konsertgroep (Die Kanaries).

Hy studeer teologie aan die Universiteit van Stellenbosch (BA, BA Hons. en BD) en word in 1997 gelegitimeer. Na ‘n jaar as jeugwerker by die NG Kerk De Tyger, word hy beroep na die NG Kerk Hoopstad.

Sedert 2004 is hy predikant in ons gemeente en vanaf 2009 koop
Bybel-Media ‘n gedeelte van sy tyd by ons uit om die afdeling Bybel-Media Musiek te bedryf wat verantwoordelik is vir die Liedboek, Flam en VONKK musiek.

Faani is getroud met Hanneke en hulle het drie dogters, Anrika, Luhani en Niané. Faani is lief vir musiek, die WP en al lyk dit nie so nie, draf hy gereeld halfmaratons…

Skakel vir Faani by (021) 591 6355 of epos na faani@ngkerkgoodwoodpark.co.za


Ons orrelis en musiekdirekteur is Chester Meyer.  Hy is gebore in Graaff-Reinet en het gematrikuleer aan die Hoërskool Colesberg, waar hy ook grootgeword het. 

Hy het die grade B Mus, NGOS (Nagraadse Onderwys Sertifikaat), BMus Honneurs en M.Mus. aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. 

Chester was voorheen orrelis in Bloemfontein by verskeie NG gemeentes o.a. NG Kerk Kovsiekampus en is ‘n gerehabiliteerde perfeksionis. 



Liezl Beukes-Hansen is sedert 2017 ons koster en assistent-skriba.  Sy is gebore en het grootgeword in Goodwood en het in 1997 aan die Hoërskool JG Meiring gematrikuleer.

Op 17 September 2016 trou sy met haar beste vriend, Gary Hansen. Hul het eers in Brackenfell gewoon, maar het in Augustus 2017 hulself weer in Goodwood hervestig en so weer deel van ons gemeente geword .

Hul het kits honde-ouers geword van Ounooi en die nuutste toevoeging tot hul gesin is Nala (‘n opregte hond).

Gary moes noodgedwonge (m.a.w. omdat Liezl hom gedwing het) die rol inneem as ons eie beiaardier om seker te maak almal hoor betyds wanneer ons eredienste begin.

Saam het hierdie twee ’n passie vir die bediening en gemeente. 

Liezl het ’n absolute voorliefde om met mense te werk en staan nie terug as dit kom by die organisering van ’n funksie nie.  In haar vrye tyd spandeer sy tyd met haar man en honde-kinders en sal jy haar dikwels agter die kospotte vind, besig om met ’n nuwe dis te eksperimenteer of iets te bak.

“People will forget what you said, people will forget what you did, BUT people will NEVER forget how you made them feel.” Maya Angelou

Netta Smith is gebore in die Noord-Kaapse dorp Calvinia.  Haar kommervrye kinderjare bring sy deur op die plaas Dassiekloof in die Ceres-Karoo.

Sy het in 1975 aan die Hoërskool Calvinia gematrikuleer en besluit om die rustigheid van die platteland te verruil vir die stadsliggies en beter werksgeleenthede.  In 1976 aanvaar sy ‘n pos by die hoofkantoor van Sanlam in Bellville.

In 1980 tree sy in die huwelik met Kobus Smith en verhuis na die destydse Suid-Wes Afrika.  Hier begin sy ‘n loopbaan in die bankwese wat oor ‘n tydperk van 22 jaar sou  strek.

In 2010 sluit sy by die administratiewe span van die Goodwoodpark Gemeente aan as Skriba/Kassier.

Sy is die trotse moeder van 3 kinders, Madeleine, Wian en Arno.  Sy is ook ‘n ouma van drie pragtige kleinkinders wat haar baie na aan die hart lê.

Sy hou daarvan om met mense te werk en om te dien.  Sy geniet die natuur en buite lewe.  Sy is ‘n passievolle mens wat graag sosialiseer en is ‘n lojale vriendin. Sy lewe naby aan die voete van haar Skepper en sy sien haar werk as deel van die uitleef van haar geloof.

Kontak Netta in die kerkkantoor by 021-5915431 of epos haar by ngkerkgoodwoodpark@gmail.com

Lucas Zawula, our factotem, was born in the district of Butterworth, Eastern Cape. He finished school and came to Cape Town
in 1979. His wife, Nosiphiwo, was born in the town called Cofimvaba, not too far from Butterworth. They were married in 2015. The Lord gave them a boy called Zuko. Lucas first wife passed away in 2008 – out of that marriage two boys and two girls were born. Lucas is fluent in Afrikaans, English and Xhosa!