Geskiedenis

Voorgeskiedenis
Die plek waar die Ned. Geref. Gemeente Goodwoodpark vandag gevestig is, was in die vroeë negentiende eeu deel van ʼn gebied wat bekend gestaan het as die “Kaapse Vlakte”. As die befaamde reisiger William J. Burchell onder datum 31 Januarie 1811 vertel van sy besoek aan die Vlakte, dan verwys hy na twee dinge wat aan elke inwoner van Goodwood goed bekend is, naamlik sand en wind. “The wind, blowing very strong, seemed ill-naturedly disposed to put a stop to all further observations, by leaving no alternative other than walking with my eyes shut or being blinded by towers of sand”, skryf hy.

Dit was die sand van dié geweste wat veroorsaak het dat ontwikkeling betreklik laat gekom het. Die wapad. wat die Kaap met die distrikte verder die binneland in verbind het en deur die gebied geloop het, was moordend vanweë die swaar sand. Van 18 tot 22 osse was byvoorbeeld nodig om ʼn wa met ʼn vrag vol wyn deur die dik sand te trek!

Eers in die 1840’s het daar ʼn verbetering gekom toe koloniale sekretaris John Montagu ʼn harde pad oor die sandvlakte laat bou het. ʼn Dekade of wat later het die gebied nog meer toeganklik geword vir boerdery toe die eerste spoorlyn in die kolonie, nl. dié tussen Kaapstad en Wellington, voltooi is. Op 10 September 1885 is die gebied waar die dorp Goodwood later gevestig is deur die Kaapse owerheid as ʼn plaas aan Michiel Louw toegeken.

Goodwood het egter nie ‘n lang boerdery geskiedenis nie, aangesien die firma Joyce en McGregor na ʼn aantal jare die plaas gekoop het en in woonerwe laat opsny het. Op 6 Oktober 1905 het die eerste kopers oordrag van die eerste drie erwe geneem. Toe die ontwikkelaars aan die nuwe dorpsgebied ʼn naam moes gee, het hulle keuse op ‘Goodwood’ geval – die naam van die beroemde perde-renbaan in Engeland.

Namate die getal Ned. Geref. lidmate wat hulle in die nuwe “dorp” gevestig het, gegroei het, het die versugting dat eredienste hier gehou word, toegeneem. Toe hierdie behoefte onder die aandag van die Ring van Kaapstad gebring is, het die kerk nie tyd verspeel nie en op 22 Desember 1906 lei Ds D. Bosman van Durbanville die eerste erediens in Goodwood. Hierna is die dienste op ʼn gereelde basis gehou. ʼn Sinkgeboutjie met sitplek vir hoogstens 120 mense is vir die doel opgerig.

Met verloop van tyd het die getal lidmate sodanig uitgebrei dat ʼn eie gemeente vir Goodwood op 30 Desember 1926 gestig kon word. Uit hierdie gemeente sou sewe ander spruit, die jongste van hulle Goodwoodpark.

Goodwoodpark stig af
Op ʼn kerkraadsvergadering van die Gemeente Goodwood-Wes word op 12 November 1973 besluit om ʼn nuwe gemeente af te stig met ʼn lidmaattal van 258. Nadat die nodige formaliteite afgehandel is, is die gemeente wat sou bekend staan as Goodwoodpark, op 28 Maart 1974 amptelik gestig en drie dae later kom die jong gemeente vir die eerste keer vir ʼn erediens byeen. Tot tyd en wyl ʼn kerkgebou opgerig kon word, sou die gemeente vir kerklike samekomste gebruik maak van die Laerskool Goodwoodpark.

Beroep van die eerste leraar
Die eerste taak wat die kerkraad ter hand geneem het, was om ʼn beroep uit te bring. Op 21 April 1974 is Ds Kobus Thom van George as leraar van Goodwoodpark beroep. Die Here lei Ds Thom en sy vrou Mary om die beroep te aanvaar en op 12 Julie word hulle as die eerste leraarspaar in die gemeente aanvaar.

Voor die koms van die nuwe leraar kom die gewone gemeentelike werksaamhede reeds op dreef. Op sy eerste gewone vergadering op 30 April het die kerkraad besluit op die stigting van ʼn Kindersendingkrans en ʼn Vrouesendingbond. By dié geleentheid is ook personeel vir die onderskeie poste in die gemeente aangestel. As orreliste is aangewys mev. Maryna Britz, as koster mnr. Jannie de Bois en as skriba mnr. Piet Fourie. Later daardie jaar sou mnr. Willem Lategan die taak as kassier opneem. Op 5 Mei het die eerste 12 katkisante in die nuwe gemeente belydenis afgelê tydens ʼn erediens gelei deur Ds Andries Batt van Goodwood-Wes. Binne enkele maande is ʼn kerkkoor op die been gebring en begin met die uitgee van ʼn maandelikse nuusbrief. As eerste redaksie is aangewys P de W Kriel en JJH Hattingh en diakens PH Kok en SJH Steynberg. Al hierdie aksies het deur die jare belangrike bydraes tot die gemeente en die uitbreiding van God se koninkryk gelewer.

Ons Kerkgebou
Een van die sake wat spoedig na afstigting die kerkraad se aandag gevra het, was die oprigting van ʼn kerkgebou vir die gemeente.

ʼn Boukommissie is aangewys en in September 1974 maak hulle reeds aanbevelings. Een van die belangrike aanbevelings wat ook ʼn besluit van die kerkraad geword het, was “dat die bouprogram nie die eerste en normale taak en verantwoordelikheid van ʼn gemeente van die Here sal kortwiek nie.” Wie die notules van die kerkraad lees, raak deeglik daarvan bewus dat die geestelike opbou van die gemeente pal die kerkraad se hoogste voorkeur was.

In April 1975 verneem die kerkraad dat die Departement van Gemeenskapsbou bereid is om die perseel op die hoek van Townsend en Frans Conradie rylaan vir die oprigting van ʼn kerkgebou beskikbaar te stel, asook ʼn erf vir ʼn pastorie in Tygerdal. Teen die tweede helfte van 1975 het die kerk bouprogram daadwerklik in beweging gekom met die aanstelling van mnr. Anton Morkel as argitek. Op die kerkraadsvergadering van 7 Junie 1976 word argitek Morkel se bouplanne goedgekeur.

Ses weke later rapporteer die boukommissie egter dat die oprigtingskoste van ʼn kerk/saal kompleks waarskynlik veel hoër sou wees as die aanvanklike bedrag van R248 000. ʼn Bedrag van R305 000 is genoem. Die Kerkraad was van oordeel dat die gemeente so ʼn bedrag nie sou kon bybring nie. Aan die anderkant was dit ook vir die kerkraad duidelik dat vanweë die snelle uitbreiding van die gemeente ʼn kerkgebou alleen onvoldoende sou wees.

Gevolglik is besluit dat die gemeente as eienaarbouer sou optree met mnr. Jan Rabe as bouheer. Op 2 April 1977 neem die bouwerk in aanvang. In plaas van die gebruiklike sooispit-seremonie is die gemeente versoek om daardie dag in werksklere aan te meld vir die spit van die kerkgebou se fondamente. Dit sou voortaan die werkwyse wees. Saans na werk en op Saterdae het die gemeentelede moue opgerol en kom help met die bouwerk. Danksy die besparing wat sodoende te weeg gebring is, kon die kerk/saal kompleks voltooi word teen ʼn koste van ± R248 000.

Dit was vir die gemeente van Goodwoodpark ʼn heuglike dag toe die nuwe kerkgebou op 30 April 1978 feestelik ingewy kon word. Talle oud-gemeentelede – onder andere die Eerste Minister, mnr. BJ Voster en sy vrou – vroeër inwoners van Akasiapark – het die geleentheid meegemaak. Nadat die deur oopgesluit is, het Ds Thom en die kerkraad onder gelui van die kerkklok die gemeente die kerkgebou ingelei. Staande het die 1187 feesgangers Ps 100 aangehoor soos dit deur die kerkkoor onder leiding van mev. Mercia Wepener uitgevoer is. Twee leerlinge van die Laerskool Goodwoodpark het ʼn Kanselbybel aan Ds Thom oorhandig wat hierna die inwydingsdiens waargeneem het.

Die Gemeente brei uit
ʼn Voorwaarde waarop die Departement van Gemeenskapsbou die perseel vir die oprigting van ʼn kerkgebou aan die kerkraad beskikbaar gestel het, was dat ʼn bewaarskool ook op die terrein opgerig word, aangesien die grond aanvanklik vir dié doel bestem was. Die kerkraad het hierin ʼn geleentheid gesien om diens te lewer deur ʼn bewaarskool daar te stel waar ouers hulle kinders bedags in goeie hande kon laat. Aan die begin van 1979 begin die beplanning vir die oprigting van die bewaarskool.

Die kerkraad was egter genoodsaak om hierdie projek op die langebaan te skuif. Die uitbreiding van die woonbuurte binne die gemeentegrense en die gevolglike toename in lidmate het dit onmoontlike gemaak vir een leraar om die gemeente na behore te bedien. Gevolglike moes die kerkraad ernstig aandag gee aan die moontlikheid om ʼn tweede leraar te beroep. ʼn Tweede pastorie moes dus gebou word en andermaal besluit die kerkraad om as eienaarbouer op te tree – hierdie keer met mnr. Hennie Voster as bouheer. Gemeentelede sit weer in hulle vrye tyd fluks hand by en in Junie 1980 kon die nuwe pastorie betrek word.

Die parlementêre woonbuurt Akasiapark was vanaf die ontstaan van die gemeente ʼn wesenlike deel daarvan. Tientalle persone wat deur die jare diep spore in ons land se politieke geskiedenis getrap het, was tydens hul verblyf in Akasiapark meelewende lidmate asook kerkraadslede van Goodwoodpark.

Teen die einde van die tagtigerjare tel die belydende lidmate in die parlementêre dorp 550, terwyl 165 kinders in die kategeseskool onderrig is. Dit was o.a. die uitbreiding van die lidmate in Akasiapark wat meegebring het dat ʼn derde leraar teen die einde van 1986 beroep moes word. Die politieke veranderings in die land sedert 1994 het egter meegebring dat die getal lidmate daar vandag gedaal het tot slegs ʼn handjie vol.

Bewaarskool
Nadat die oprigting van ʼn bewaarskool vanweë die behoefte aan ʼn tweede pastorie in 1979 op die lange baan geskuif moes word, kon die kerkraad in 1982 met die projek voortgaan. Weereens het die gemeente self hand bygesit met die bouwerk en op 16 Oktober 1983 kon die bewaarskool cum pre-primêre skool ingewy word. Die boukoste het R268 615 beloop. Na verdure aanbouings huisves die bewaarskool nou 155 kinders. In die pre-primêre skool word tans onderrig aan meer as 90 kinders gegee.

Ander gemeentelike aktiwiteite
Op die gedenkplaat in die voorportaal van die kerkgebou is dié woorde uit Matt. 6:33 aangebring: “Soek eers die koninkryk van God.” Wanneer die kerkraadsnotules onder oë geneem word, kom ʼn mens dadelik onder die indruk dat die Gemeente Goodwoodpark oor die jare met ywer daarna gestrewe het om werklik ʼn Kerk van Christus te wees en so die Here te verheerlik en Sy Koninkryk te dien.

Die gemeentelede is geestelik opgebou in eredienste en bidure, in Bybelstudie byeenkomste en gemeente-aksies, by wyse van kampe en toerustingskursusse. Ook na buite is veel gedoen om die kerk van die Here te help uitbou deur middle van barmhartigheidsdiens, evangelisasie-en sendingwerk. Daar is hard gewerk op die jaarlikse kerkbasaars, maar daar was ook geleentheid vir gesellige saamwees op gemeentekonserte, Familie-feeste en gemeente-etes.

En hoe sien Goodwoodpark vandag na meer as 40 jaar daarna uit? Die gemeente bestaan tans uit 1200 belydende lidmate en 120 doop lidmate en word bedien deur drie leraars en ’n Jeugwerker, saam met kerkraadslede en dienswerkers.

Benewens die maandelikse wyksbyeenkomste funksioneer daar tans 25 Bybelstudie groepe vir volwassenes. Vir die kinders is daar naas die geestelike onderrig in die kategese, in die jeugaksies geleentheid om die Here prakties in die kerk en gemeenskap te dien. Vir die Laerskoolkinders is daar TJ’s (Graad 1 – Graad 4) en JIKS (Graad 5 – Graad 7), terwyl die tieners byeenkom by SWAT. Die jong belydende lidmate vergader vir geestelike opbou in Bybelstudiegroepe en dien as groepleiers by die tiener groepe. Voorskoolse kinders word ook hoog van waarde geag en daar is Sondae tydens die eredienste ’n spesiale plek, genaamd die Dapper Stappers, wat die Woord op ’n verstaanbare vlak aan hulle oordra. Vir die vroue is daar die ISHA-bediening en senior lidmate kom byeen in ʼn klub genaamd Fynbos.

Die maandelikse gemeenteblad, Flikker, waarmee 40 jaar gelede begin is, vervul steeds ʼn belangrike funksie in die gemeente en staan tans onder die redakteurskap van ons jeugwerker, Michael Beukes.

Die kerkkoor is lewenskragtig met die jaarlikse Paassangdiens en Kerssangdiens as “hoogtepunte” van hulle dienswerk. Ons orrelis, Chester Meyer, is ook ‘n meesterlike koorafrigter. Hy staan ook in beheer van die musikale leiding van ons begeleidingsgroep, Vonkprop, wat meestal tydens die aanddienste diens doen.

Na al die jare is die gemeente van Goodwoodpark steeds ‘n oop en vriendelike gemeente. Ons familie-vriendelike eredienste word op so ‘n manier ingerig dat enige iemand welkom is.